Miriam Makeba

Miriam Makeba
Miriam Makeba tydens 'n optrede
Agtergrondinligting
GeboortenaamZenzile Miriam Makeba
Ook bekend asMama Afrika
Gebore4 Maart 1932
Prospect Township, Johannesburg (Suid-Afrika)
Sterf10 November 2008 (op 76)
Castel Volturno (Italië)
Beroep(e)Sangeres
Jare aktief1954–2008

Miriam Makeba OIG, of Mama Afrika soos sy deur miljoene bewonderaars genoem word (* 4 Maart 1932 in Prospect Township, Johannesburg, Suid-Afrika; † 10 November 2008 in Castel Volturno, naby Napels, Italië), was een van die prominentste swart uitvoerende kunstenaars van die 20ste eeu en is een van Suid-Afrika se bekendste vroue. Sangeres en liedjieskryfster, sterk politieke aktivis, skryfster, aktrise en VN-afgevaardigde: Makeba het haar politieke en kultuurinvloed internasionaal gevestig. Sy was die eerste Suid-Afrikaner wat 'n Grammy gewen het en het voor gehore dwarsoor die wêreld opgetree.

Die vrou wat, volgens 'n artikel in Newsweek, sing "met die smeulende klank en delikate bewoording van Ella Fitzgerald … die astrante vertoon van Ethel Merman en die intiemheid van Frank Sinatra"[1] en wie Westerse aanhangers verlei het met die klanke van haar Xhosa (en Zulu) liedjies, is oorlaai met internasionale toekennings.

Sy het vir staatsmanne soos John F. Kennedy, François Mitterrand, Fidel Castro, Nelson Mandela en Haile Selassie opgetree en het drie oudiënsies met die Pous gehad.

Sy is in 1960 deur die apartheidsregering tot ballingskap gedwing en het 'n onvermoeibare stem van protes teen die verdrukking van die apartheidstaat en 'n kampvegter vir haar mense geword. Haar onverskrokke bepleiting van menseregte het haar die Dag Hammarskjöld-Vredesprys in 1986 besorg.

  1. Oorspronklike Engels: "with the smoky tones and delicate phrasing of Ella Fitzgerald … the brassy showmanship of Ethel Merman and the intimate warmth of Frank Sinatra"

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne